Ons Departement in 'n ope geleentheid samelewing
Landbou is onlosmaaklik deel van my wese. Ek is 'n boer. Ek is ook iemand wat moet eet, en met hierdie eenvoudige stelling, is landbou skielik onlosmaaklik deel van ons almal se lewens. Landbou is dikwels in die verlede as die swartskaap behandel. Maar die realiteit is dat landbou die hart van hierdie provinsie is en dat dié sektor aan duisende mense voedselsekuriteit en werksgeleenthede verskaf.
Laat my toe om u te herinner aan die uitgestrekte deel van die land waarin ons bevoorreg is om te lewe. Al is die Wes-Kaap maar een van nege provinsies, is ons verantwoordelik vir 20.8 persent van die waarde van die totale landbouproduksie van Suid Afrika. Die wynindustrie, waarvan 90 persent van die geldwaarde in die Wes-Kaap gesetel is, is tans die grootste verdiener van buitelandse valuta in die Suid Afrikaanse landbousektor. Die wynuitvoerindustrie het gegroei vanaf 21 miljoen liter in 1992 tot 312 miljoen liter in 2007.
Dit is verblydend om ook uitstekende groeisyfers in sekere sektore waar te neem. Gemeet aan groei vanaf 1992 tot 2006 kan die volgende gesien word: Die sitrusuitvoerindustrie groei vanaf R21 miljoen tot R2,5 miljoen. Druiwe-uitvoere groei vanaf R636 miljoen tot R1,796 miljoen. Appel- en peeruitvoere groei vanaf R6,54 miljoen tot R1,364 miljoen.
Die impak van landbou-uitvoere is onlangs deur die Department van Landbou nagevors. Daar is gevind dat indien uitvoere met so min as vyf persent gestimuleer word, dit 'n addisionele inspuiting in die ekonomie van die provinsie sal gee van R432 miljoen - dink net aan die impak op werkskepping! Positiewe uitvoergroei in sitrus, bier en wyn, druiwe, appels, pere en ingemaakte vrugte wys dat die Wes-Kaapse landbousektor internasionaal kan meeding. Ons moet dit koester en uitbou.
In hierdie begroting is daar R113,844 miljoen, of ongeveer 25 persent van die totale begroting, voorsiening vir die ondersteuning van gevestigde nuwe boere. Wanneer ek praat van geleenthede vir nuwe boere dan dink u dalk onvermydelik aan eienaarskap van grond. Maar eienaarskap alleen beteken niks wanneer daardie grond nie produktief geboer word nie.
Ek het 10 jaar gelede begin om die nuwe toetreders toe te rus met die nodige vaardighede, kennis en selfs toerusting. Ons sal voortgaan om hierdie diens te lewer aan elke nuwe boer wat die geleentheid gegun word om te boer. Maar dit moet ook ons prioriteit wees om die bestaande boere te help om produksie te laat groei, sodat hulle winsgewend kan bly.
Nuwe of opkomende boere kan tog nie vir altyd nuut en opkomend bly nie; vir hul menswaardigheid , hul finansiële welvaart en vir die groei van die sektor, het ons nodig om hulle te help op die pad na volwaardige kommersiële boerderye.
Soos in die jare toe landbou nog maar 'n jong bedryf was en boere die raad en bystand van voorligters broodnodig gehad het, so ook het die provinsie se opkomende boere die departement vandag nodig. Spesiale aandag sal gegee word aan die aanvul van die departement se klein voorligterspan na 119 bekwame en toepaslik opgeleide beamptes oor die volgende drie tot vier jaar.
Premier Zille het genoem dat ons maniere moet vind om entrepreneurskap aan te wakker sodat mense geleenthede kan raaksien en aangryp, eerder as om in 'n gees van afhanklikheid voort te leef. Hierdie is een van die standpunte waaroor die nuwe regering sterk voel: geen inwoner behoort maar net vir ewig tevrede te wees met aalmoese van die regering nie.
Die regering moet hulle help om hul individuele talente en vaardighede te ontwikkel en aan te wend en so hul drome na te jaag en vir hul families te kan sorg. Ook in landbou is dit die geval: ek sien gevaarligte wanneer 'n persoon sonder 'n werk of heenkome bloot aanmeld vir 'n grondhervormingstoekenning (grant) sonder 'n werklike besef van wat dit behels om in die landbou betrokke te wees.
Ek wil graag saam met Minister Joemat-Pettersson die provinsie se kommersiële boere van ons hernude ondersteuning verseker. Julle speel 'n onontbeerlike rol in die ekonomiese groei van hierdie vrugbare provinsie. Dit is julle wat oor die vermoë beskik om winsgewend te produseer ten spyte van grootskaalse druk. Dit is julle wat steeds mense in diens neem. Dit is julle wat topgehalte produkte produseer en uitvoer. En julle doen dit alles in die moeilike ekonomiese klimaat wat tans wêreldwyd heers.
In 2001 maak Professor Nick Vink van die Universiteit van Stellenbosch 'n belangrike punt wanneer hy sê dat kommersiele boere nie noodwendig suksesvol sal wees as die nodige infrastruktuur, soos verskaf deur die staat, nie teenwoordig is nie. Maar sonder hierdie infrastruktuur is dit onmoontlik om kommersieel te boer. Ek herinner u daaraan dat Premier Zille in haar toespraak beloof het dat die Wes-Kaapse regering landelike infrastruktuur en dienste sal verbeter. Dit sal ook lei tot die voortbestaan van kommersiele landbou.
Ek het vroeër vlugtig verwys na die belangrikheid van landbou-uitvoere: gelukkig is ons 'n kusprovinsie en het ons 'n geografiese voorsprong bo die binneland as dit kom by internasionale handel. Buitelandse beleggers is nie die vyand van die werkers nie. Beleggers skep geleenthede vir werkers om hulself te verbeter en te groei sovêr hul persoonlike ambisie strek. Deur landbou winsgewend te maak, sal dit ook aantreklik raak vir beleggers, en sodoende kan verdere groei gestimuleer word in die sektor.
In hierdie nuwe regering se voorgestelde oop gemeenskap waar die skep van geleenthede voorrang geniet, is die idee juis dat die internasionale verhoog op verskeie maniere gebruik moet word om die inwoners van die provinsie se belange te bevorder en nuwe geleenthede te skep.
Landbou-uitvoere speel hier 'n beduidende rol en die departement onderneem om kommersiële sowel as opkomende boere by te staan in die verkryging van marktoegang (plaaslik, nasionaal en internasionaal). Ons onderneem om voortdurend 'n voorspraak rol te speel in terme van internasionale handelskwessies. Ons kan gerus verder voelers uitsteek na moontlike handelsgeleenthede in Afrika, Amerika, en markte soos Indie en China in die Ooste.
Die landbousektor het in die laaste paar jaar intensief aandag geskenk aan die ondersteuning van opkomende boere. Dit het egter die gevaar laat ontstaan dat navorsing en tegnologie aan die agterste speen van die begroting begin suig het.
Die huidige begroting maak R63,653 miljoen voorsiening vir navorsing. Dit is egter slegs 16 persent van die totale begroting. Ek dink hierdie bedrag moet groter wees. Dit is juis wanneer innovasie, hernuwing en 'n aktiewe nastreef na uitnemendheid sentraal tot 'n regering se doen en late staan, dat dinge gebeur!
Die Wes-Kaapse Departement van Landbou beskik oor een van die sterkste span kundiges in die land. Ons het sewe goed toegeruste navorsingsentra om die onderskeie streke met hul verskillende klimaatstoestande te bedien. Ons spog met 11 kuddes wat nasionaal erken word. Hoog op ons prioriteitslys is uitgebreide navorsing gefokus op die volstruis-, suiwel- en skaapbedrywe asook plantnavorsing op veral kleingrane en sogenaamde niche produkte.
Waterskaarste en aardverwarming is daadwerklike bedreigings vir die provinsie, en veral vir landbou. Ons moet pro-aktief werk aan alternatiewe om 'n volhoubare sektor te verseker.
Die departement begroot R47,7 miljoen vir opleiding in die huidige begrotingsjaar. Dit sluit ons kollege-, voortgesette onderwys-, en interne personeelopleiding in. Landbou benodig dringend talent om die uitdagings wat voedselproduksie in die oë staar aan te pak.
Landelike ontwikkeling
Landelike ontwikkeling is ook deel van my verantwoordelikheid. Mense in ons landelike areas word veral swaar getref deur stygende voedselpryse en die huidige moeilike ekonomiese tyd waarin ons leef. Sommige basiese voedselsoorte se pryse het dramaties gestyg. Dit is ironies dat landelike verbruikers gemiddeld R1,04 meer per gemoniteerde kositem betaal as die verbruiker in die stad.
Daar is gebiede in die provinsie waar landbou tot 80 persent van die bruto binnelandse produk (BBP) bydra. Landbou sal dus `n belangrike rol moet speel in die stimulasie van ons landelike areas. Landbou kan die tipe besighede nader lok wat sosiale voordele vir daardie gemeenskappe kan inhou. Die Wes-Kaapse regering voorsien 'n provinsie waar landelike hongersnood en armoede teen 2020 gehalveer is, 'n platteland wat werkloosheid nek omgedraai het en waar volhoubare boerderypraktyke toegepas word.
My departement kan nie alleen hierdie visie verwesenlik nie. Alle provinsiale departemente van hierdie regering sal hul kant moet bring. Ons moet verseker dat publieke dienslewering soos skole, hospitale, veiligheidsdienste, en alle nodige infrastruktuur in stand gehou word. Mense moet trots wees om op die Wes-Kaap se platteland te woon. Dit moenie 'n plek van mistroostigheid en frustrasie wees nie.
Ek weet dat daar al baie oor landelike ontwikkeling gesê is in die verlede. Maar ons moet nou ophou om net te praat en daadwerklik aan die gang kom. Die nuwe regering kyk na spesiale ekonomiese areas waar beleggers belastingsvakansies en ander voordele kan geniet. Werklose mense moet opleiding ontvang wat hulle beter kanse in die arbeidsmark sal gee. Familiewaardes moet weer aandag geniet sodat sosiale probleme wat tans sommige gemeenskappe lamlê, aangespreek kan word.
Dankie aan my voorganger, Cobus Dowry. Hy het 'n konkrete bydrae tot landbou gemaak gedurende sy ampstermyn. Ek glo dat hy egter nog baie meer vir landbou sou kon doen as sy party hom toegelaat het om op landbou te fokus instede van politiek wat nie die sektor gedien het nie. Dankie aan u almal wat moeite gedoen het om te kom. Dankie vir u belangstelling en ondersteuning.
Dankie aan my kantoorpersoneel, en laaste, maar nie die minste nie, my vrou Christa. Dankie vir jou ondersteuning. Dankie aan my hemelse Vader. Saam met so baie landbouers kyk ons op na bo, want dit is waar ons hulp en krag vind.
Net soos landbou die slagaar van hierdie provinsie is, so ervaar ons ook landboubloed deur ons are. En ja, dit is 'n sektor wat gereeld sterk emosie uitlok. En dit is 'n sektor met hoë risiko's en dikwels klein winsmarges. En tog is daar mense wat hulle geen ander loopbaan of toekoms kan voorstel nie. Laat ons dankbaar wees vir hierdie mense se toewyding en uithouvermoë wanneer slegte publisiteit, of moordende weersomstandighede of lae voedselpryse hulle op hul knieë wil dwing. Laat ons almal wat in die sektor werksaam is, positief praat en handel om die beeld van die sektor te verbeter. Mag die verbruiker en publiek aan u die dankbaarheid bewys en die erkenning gee wat u elke dag verdien.
Ek sluit af met 'n deel van 'n gedig deur GA Watermeyer uit sy 1948 bundel, Sekel en simbaal, wat die toekoms, die strewe van 'n groeiende landbou vir my simboliseer:
Vier mure teen die suidewind
My swartoogvrou, my blondhaarkind
Kareehoutstompe in die vuur,
Ketel en kaggel brons geskuur.
My bont koei lê op koringstrooi,
My swart haan roep die dagbreek rooi.
Soet deur die lang nag sing die reën,
Die wendam stoot sy uitloop oor, blink breek my ploeg die middelvoor
Tel: 021 483 4700
